Sunday 9 October 2011

skaduwees

Soos wat ek skryf
Val die skaduwees oor my woorde.
Hulle het 'n houvas op my hand
en wil nie verdwyn nie.

Die verlede is wreed,
dit klou aan jou

Die lig in die agtergrond verdof my hand,
dit soek die woorde in die donker.
Al wat hy kry is die letsels
van potloodmerke wat iets probeer se.

My skaduwees het my ingehaal.
Dit het my kom haal.

Net soos asemhaal is ons skaduwees deel van ons bestaan. Oral waar jy kom is daar 'n skaduwee wat oor jou val of waarin jy staan. Partykeer vang ek myself waar ek skuil in my man, sussies, pa se skaduwees.

Skaduwees sien ek ook as ons verlede..maak nie saak wat jy doen nie - wat gebeur het het gebeur en is daardie skaduwees geneig om jou te agtervolg. Ek is geneig om heeltyd in my skaduwee vas te kyk waar ek liewer moet kyk na die helder lig wat agter dit skyn..



So ek dink my visie vir die week is om my skaduwees los te knip en om my eie skaduwee vol te staan...

Monday 29 August 2011

Rank

Dit is amper lente... In die kerk het ons die afgelope tyd gepraat van seisoene in ons lewens en hoe God teenwoordig is in elke seisoen.

Terwyl ek geluister het na die preke het ek gedink ek is baie lekker 'cozy' in die somer seisoen van my lewe...Maar eweskielik het die wa omgeval en le ek kop onderstebo in die winter...

Ek het die gedig geskryf toe ek tweede of derde jaar was op universiteit en ek dink dit som my seisoen waar ek nou is mooi op...

rank
Nooit gedink ons paaie sal kruis nie,
altyd gedink jou blare strek
hoer en laer as myne.
Tog het een van jou ranke my stam omring.

Jy het stadig 'n pad gevorm,
saggies opgekruip.
Met jou blare, blomme my versier
ek het vir 'n rukkie kersfeesliggies gestraal.

Maar net soos kersfees verby gaan
is ek gesnoei en is jy afgeknip.
Elke rank en blom is weg, uitgeroei.
Ek sit weer met 'n lee winterboom.

Soos wat my takke soekend sprei,
wens ek vir 'n verlore rank
wat weer my sal omring
My versier met jou blare, blomme...

Tuesday 26 July 2011

Soektog na kalmte

Die vakansie is al vergete en die eerste twee weke vlieg verby...ons is almal alklaar weer op 'n drafstappie. Soms voel dit of ek en my man vir mekaar net die aflosstokkie aangee. Om belangrike dae en afsprake te vergeet word deel van my roetine...

Maar tussen deur die gejaag dink ek aan ons nuwe hondjie wat salig in sy bedjie le...hy het nie 'n bekommernis van 'n dag oud nie. Hy vertrou dat ons sy waterbakkie sal volmaak en sy kossies mooi sal afweeg..Kan ons nie maar ook net so vertrou dat God in beheer is en dat Hy vir ons sal voorsien nie..

My soektog na kalmte stop vandag by die vissies in die akwarium...Ek en francois(my oulike man) was ander dag daar en ek kon my verkyk..Dis asof daar 'n kalmte rus rondom elke vissie...




Friday 15 July 2011

Dit is ek...

Dit is vakansie vir die juffies en in die laaste week van ons wel verdiende 3 weke vakansie besluit ek om hierdie blog te begin..ek raak raak hier en daar en sukkel nog so bietjie, so wees maar geduldig..

Die doel van my blog is eenvoudig die naam..asemhaal...daar is soveel goed wat in die dag met ons gebeur en soveel goed waaraan ons moet dink dat ek soms voel asemhaling is die enigste ding waaraan ek nie hoef te dink nie. Soms wens ek ons dae kan wees soos ons asemhaling, rustig en egalig...

Die blog is gebasseer op my asemhaling. Soms vinnig en kort van asem soos as jy voor die kansel staan en soms snikkend soos na 'n slegte dag by die werk.

 Prediker 3:12 som dit baie mooi op: Daar is vir die mens niks beter nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie jy bepaal nogsteeds jou eie geluk...

Groete
Jo-Dine